Die wêreld volgens Wijnberg

‘n Ode aan honde wat heengaan

Vanjaar kon ek, dansky ‘n wonderlike beurs van die Van Ewijck-stigting, ‘n honneurskursus in Moderne Nederlandse Poësie onder doktor Alfred Schaffer (self ‘n bekende Nederlandse digter) doen.  My Nederlands het skaars verby die “ik ben jij bent”-fase gestrek, en my kennis van die Lae Lande se letterkunde was gebrekkig, om die minste te sê.

Ek dra nou ten minste kennis van werkwoordverbuigings (in teenwoordige tyd – ik leer langzaam) en het kennis gemaak met die werk van vier Nederlandstalige digters, van wie Nachoem Wijnberg een is.

Wat my dadelik van sy verse opgeval het, is die absolute gebrek aan digterlike konvensies.  Geen metafore.  Nie ‘n gerym nie.  Ook geen opvallende dieper betekenis nie, al het ons in die klas daarvoor bly soek.  Wijnberg se poësie is eerder proefstellings, daardie oomblikke tussen die digter se gedagtes en die vers wat voltooi is, die what ifs van die digkuns in wording.

Een vers wat my bybly, is “Hond” uit sy bundel Langzaam en zacht (1993):

Hond

Een hond wil niet meer
omdat hij zich al een week niet goed voelt.

Hij zegt:  ik geloof niet dat dit nog verandert
en ik kan er niet meer tegen;
mijn keel wordt dichtgeknepen door zelfmedelijden.

Ik hoor mijn stem alleen nog door mijn kaakbeen naar mijn oor.
Ik loop met je mee naar buiten
en daarna hoop ik dat je mijn naam niet meer roept.

Die eerste ding wat die leser oorrompel, is die abstrakte eenvoud en skoonheid van sy verse.  Eers nadat dit gelees (en herlees) is, kan daar gevra word waaroor die vers eintlik gaan.  Uiteindelik glo sommige lesers dat daar geen dieper betekenis in Wijnberg se verse is nie; dat dit eerder geniet as verstaan moet word.

Op die webblad vir die Nederlands Letterenfonds word die volgende gestel:  “If it were not such a cliché, one might say: a Wijnberg poem captures the reader instantly but does not reveal itself easily. However, this cliché is not truly applicable: Wijnberg’s poems expose themselves immediately, it is only during re-reading that they appear to comprise unexpected aspects.”

Die wêreld volgens Wijnberg is met die eerste oogopslag onpoëties.  Sy verse bied geen blik deur die bril van ‘n digter nie, maar sy verse wil ons tog nooi om ons koppe effe skuin te draai en die alledaagse vanuit ‘n nuwe hoek te beskou.  Soos ‘n hond wat wil verstaan.

Lees gerus meer oor Nachoem Wijnberg op hierdie webbladsye:

Naskrif

Kort voor Kersfees 2010 moes ek en Francois ons twee honde vir oulaas na die veearts neem.  Alhoewel ek myself geensins as ‘n digter voorhou nie, het ek wel vir ‘n kreatiewe skryfkunde-opdrag hierdie neergepen.  Sou ek dit in die styl van Wijnberg moes oorkskryf, sou dit veel meer gestroop van metafoor moet wees.

om twee honde te begrawe
(vir Zorro en Oliver)

om twee honde te begrawe is eenvoudig:

grou ’n gat in ’n hoek van ’n onbewaakte tuin
of kies een wat reeds gegrawe is
en pak die kombersbondels soos breekgoed weg

om begrafnis te hou is moeiliker.

nooi jy die buurvrou wat deur Zorro gebyt is
laat kom jy elke werpsel boeties en sussies
al die pad van Johannesburg af
hoe gemaak met die kwessie van die biologiese pa

wat sê jy in die grafrede
lees jy die beskrywings op die geboortesertifikaat
Zorro:  fluffy coat white with black and brown spots
of maak mens iets digterliks daarvan
sê dat Oliver nie fynbebaard was nie; ‘n regte stekelbrak
vuilwit selfs na ’n was met kolle die kleur van fudge

vertel jy hoe lekker hulle kon lê
pens en peestertjie ontbloot oë wat dromerig omdop in kaste snorbaarde wat effens lig
beskryf jy die grom in die keel, die poep wat onwetend uitglip
die confused look as jy die hond wakkerskud en skel
in ‘n taal wat hy nie verstaan nie

noem jy die keer toe ons see toe is
en Oliver ’n seeumeeukarkas rondgedra het en nie wou los nie
of dat Zorro amper raakgery is en ’n gesnorde man my uitkak oor hy moes uitswaai
en al waaraan ek heeltyd kon dink is foktog jou fokker klim in jou fokken kar en fokof

verspil jy die details oor hulle siekte
sê jy dat die kankerklont op Oliver se maag later nes ’n moerbei lyk
dat hy kromrug kots elke keer as ons veearts toe gaan
dat Zorro een of ander skytsiekte het
vandaar die kakstrepe wat tussen kussing en kosbak spoor

vertel jy van die groot besluit
van die laaste keer toe jy die handdoek oor die agtersitplek sprei
van Zorro se stert wat see toe
van Oliver wat ’n dun straaltjie opwinding pis

getuig jy hoe jy gehoorsaam twee honde wegteken
driehonderd-nege-en-neëntig rand elk

noem mens enige van hierdie dinge

of sê mens net
ná ’n lang, láng stilte

hulle was goeie honne

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s