Ons boere(hoof)meise se brûebrandery

Sunette Bridges en die “familie” vir wie ons skaam kry

By my groot-oupa Piet se begrafnis sit daar so blonde krulkopvrou in die banke voor ons.  Sy het ’n rooi rok aan wat deur haar boobs bogehou word.  Ek dink eers dis my verbeelding, maar by die tee op die plot in Muldersdrif anderkant Krugersdorp is sy sowaar weer.  Patricia Lewis.

Aangetroude familie, vind ek later uit.  Verlangs, gelukkig.  [Sjuut, moet vir niemand sê nie.  Hierdie vernederende inligting bewaar ek soos Zuma sy spy tapes.]

Soortgelyke nuus kry ek gister toe ’n goeie vriendin [wat graag anoniem gaan bly, of sy nou wil of nie] vir my vertel dat sy en Sunette Bridges familie is.  Dit kom nadat ’n rassisme-klag weer soos ’n stinkbom in ’n skoolsaal oor die arme Sunette uitgesak het.

Die berugte dogter van Bles Bridges is nie ’n rassis nie.  Daar is dan foto’s waar sy by die Abraham Kriel-kinderhuis op Nylstroom vir al die kinders sing, nie net die wittes nie.  (Of is hulle dalk per ongeluk in die agtergrond?  Tant Cecile Janse Volschenk, lid van haar Facebook-boerebende, comment egter deur te sê “skies ek vra maar is daar nog kinderhuise wat slegs wit is?”)

Maar Google kan tog nie lieg nie, kan dit?  Tik mens haar naam is, is die koerantargiewe propvol stories waarin ons voortrekker hoofmeisie van rassisme beskuldig word.  Die jongste storie, dat sy nie vir ’n swart kind lekkergoed wou gee nie en geweier het om hom, soos die ander (wit) kinders te omhels, word nou toegeskryf aan ’n wraaksugtig iemand wat as <gesensor> bekend staan.  Klink baie soos “jou ma”, dink julle nie?  ’n E-pos, blykbaar vervals om te lyk asof dit uit Sunette se sleutelbord kom, kompleet met ’n baie lelike woord en spelfoute, is deur Sunette op haar Facebook-blad geplaas en in Sondag se Rapport aangehaal:

 jy Jomammatjie, het ‘n groot fout gemaak! Ek het vir jou lankal gese wat my mening oor kaffers is en jy het een gaan aanneem. Ek skaam my vir jou en daarom sal ek jou treiter tot jy nie meer kan nie – ek wat soveel omgee vir my mense sal toesien dat jy breek oor jou volks verraad.

Uiteraard boer Sondagkoerante met skindernuus, en wat is meer sensasioneel as ’n mediocre Afrikaanse sangeressie wat van “kaffers” praat en nie kan spel nie?  Haar ondersteuners, en daar is sowat 11,000 mense wat reeds die blad die duim gegee het, meen dat sy moed moet hou, want “die hoogste bome vang die meeste wind”.  Hiermee stem ek nie saam nie.  Hoogste boom in die Afrikaanse kwekery, ja.  En ook maar net omdat Steve Hofmeyr ’n stuik is.

Ene Izak van Zyl, wat ook op die blad kommentaar lewer, meen dat hy ’n “uiters objektiewe persoon” is en sien dat sy “redelik aanhang het onder openlike en regte rassiste”.  Hy het ’n probleem met die feit dat Sunette Bridges hierdie kommentaar nie afkeer nie.  (Gaan lees gerus as jy verveeld is, maar wees gewaarsku, die mense is gemeen en hul spelling maak die oë seer.)  Met hóm stem ek saam.  Ek dink Sunette Bridges is ‘n selfaangestelde Afrikaner-doemprofeet wat al ons mense se slegte ervarings (en daar is slegte ervarings, ek weet) versamel en die “BARBARE” (in hoofletters, ja) blameer.  Tog hou sy vol dat die beskuldigings van rassisme teen haar “pateties” is.

Dit herinner my aan al daardie mense wat sê “ek is nie ’n rassis nie, maar…”.  Wat gewoonlik op die “maar” volg, is blatante bewyse dat hulle ’n intense afkeer in ’n ras anders as hul eie het, in my opinie die woordeboekdefinisie van dit wat hulle “nie is nie”.  Behalwe vir die f-woord, het Afrikaans nóg ’n verskriklike v-woord:  volk.  Is dit nie hierdie vier letter woordjie wat soveel kak veroorsaak het nie?  Is dit nie uit hierdie woord dat die ander lelike k-woord gebore is, juis om die heidene van die “Christelike Volk” te onderskei nie?

Uiteindelik besef ek dat ek deel is van hierdie volk, of ek nou wil of nie.  Dat ook ek ’n Afrikaner is.  En dis OK om deel van hierdie familie te wees, want ons het maar almal familie vir wie ons skaamkry.  Ons volk [ek ril skoon as ek dié woord gebruik] moet liefs die tou en twee blikkies neersit en ophou om net met mekaar telefoontjie te speel.  Wees eerder brugbouers tussen al die nasies in ons land.

Rassisme is nou maar daardie een –isme wat nooit gaan uitsterf nie.  Soos die armes gaan die rassiste ook altyd by ons wees.  Ek het wel ’n groter probleem met die “maar”-rassiste as wat ek met mense het wat eerlik oor hul ras-gevoelens is.  Vir die hele spul van julle het ek hierdie raad:  Trek Antarktika toe, dis mooi wit daar.  Ek dink Sunette Burning Bridges sal pragtig lyk as sy haar voortrekkerkappie mooi styf teen die koue vasbind en vir die kindertjies Kumbaja kan sing.  Maar nie vir die pikkewyne nie – hulle is te swart vir haar smaak.

8 thoughts on “Ons boere(hoof)meise se brûebrandery

  1. Ek dink jou storie grens aan onwaarheid! Waarom se ek so omdat jy te veel koerante lees, en te veel kots op jou blog en so die waarheid nie wil uitvind of raaksien nie. Ek kan egter daarom aandring dat jy my naam verwyder totdat jy die waarheid weet!

    • Dankie vir jou kommentaar, Joma. Hierdie blog is bloot ‘n platvorm waarop ek myself kreatief uitleef en my opinies en denke deel. Ek dink tog dat jy die storie mislees – ek spreek my duidelik uit teen die rassistiese neigings van Sunette Bridges en voel dat dit wat sy gedoen het, uiters ongevoelig is. Ongelukkig is my verstaan van haar doen en late beperk tot dit wat ek in die koerant of op haar Facebookblad lees, en ek deel graag hierdie dinge met my lesers.

      Jy is welkom om jou weergawe van “die waarheid” vir my aan te stuur, ek hoor graag van jou en “kots” dan verder oor die storie. Anders as wat jy dink, stel ek baie belang in die waarheid en belig graag hierdie storie ook vanuit die ander hoek. Intussen verwyder ek jou naam vanuit die storie. Groete, Stephan (stephanmeyerjnr@gmail.com)

      • Hallo Stephan, kom lees ek weer op jou blog na my kommentaar ‘n tyd gelede. Die waarheid rondom die Sunette Bridges storie is natuurlik soos dit in die koerante weer gegee is. Die email is beslis vanaf Sunette Bridges af, soos bevestig en nagegaan is. Intussen kontak Sunette my gereeld, dreig met die Nasionale Intelligensie, SAPD, Boere organisasie, ens. ens., maar nog nooit het sy ‘n saak teen my gemaak nie – wonder ek nou hoekom nie? Juis omdat sy nie ‘n saak kan maak nie omdat die epos “waar” is. Ek self sit en wag angstig om te hoor wat die MRK saak gaan oplewer, alhoewel ek nie self ‘n saak gemaak het nie, maar die eposse deel is van die saak wat ‘n persoon gemaak het. Huidiglik volg en maar net haar “sieninge” en aanvalle en vermy maar die politiek en aanmerkings. Ek het nogal fotos geneem van die gewraakte dag waar sy al die blanke kindertjies drukkies en lekkers gegee het. Die snaakste is net dat ek die een was wat onder andere die lekkers geskenk het. My seuntjie is gelukkig ‘n kind wat sulke dinge verstaan. Hy word orals aanvaar en kon nie regtig verstaan wat Sunette se probleem was nie, maar nadat ek vir hom verduidelik het dat ons slegs daar was vir die kinders wat swaar kry, was hy heel tevrede. Ek is nie ‘n haatdraende persoon nie en wou ek gladnie dat hierdie storie so hand uit geruk word nie. Dit is in kort maar die storie.

  2. HA HA, vrek snaaks. Antarktika is effe koud vir my, alhoewel die wit pragtig is. Orania is egter nader en die son skyn tenminste lekker warm.🙂 Plus my volk doen BAIE goed daar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s