Die grootse avontuur

‘n Reisverhaal, in sewe dele

Twee bakkies en ʼn witterige Avanza stop vir petrol en 13 studente moet pie.  Dis 2 Julie 2008 en my broer verjaar 3,227 kilometer terug.  Ons is vuil en veilig in Mangochi, ʼn township-town in die suide van Malawi.  Die grootste avontuur het pas begin.

I. Die eerste ongeluk

Ons het Stellenbosch op Vrydag, 27 Junie verlaat met die plan om teen Maandag, 30 Junie in Chiconono, Mosambiek te wees.  Dis 4069 km oor vier dae.  Om die beurt bestuur en slaap ons.

By Bloemfontein sien ons hoe poele langs die pad ys, in Johannesburg maak ons ʼn ongeluk en ons slaap die Saterdagnag op die grens anderkant Ermelo.  In Mbabane koop die res wortels en lemoene by ʼn Sondagmark; ek dut deur die hele Swaziland.  In Maputo laai ons Bybels op en speel pool in ʼn kroeg op die strand.  Dis hier waar die eerste sandwurms in ons tone nesmaak.

II. Die tweede ongeluk

In Chimoio swaai ons vir ʼn lorrie uit en sien nie die paal by die petrolpomp nie.  Ons oornag op die sypaadjie langs ʼn vulstasie waar ʼn groot geweer aan ʼn wag se skouer hang.  Hy pas petrol op, verstaan ons uit ʼn mengsel Engels, Portugees en Chewa.  Van laasgenoemde onthou ek net van “zikomo”, wat ek in 2006 geleer het toe ek vir die eerste keer in Afrika op is.  Dit beteken hallo, hoe gaan dit, dit is lekker om jou te sien, asseblief, baie dankie, mooi bly, mooi loop.  Onder andere.  Ons koop bier en gee vir die wag een van die Chewa Bybels, toe hy daarvoor vra.

Dis Dinsdagoggend.  Ons is reeds ʼn dag laat en steeds ’n halwe roete weg.  ʼn Matwit mis gee stadig mee voor ʼn son wat skerpgemaak is.  Gou sweet en swets ons.  As dit nie vir ʼn besonderse trae polisieman en ’n onvolledige affidavit  was nie, was ons lankal vort.  Ons is bruingebrand toe ons uit Chimoio wegtrek.

III. Die hond

Twee dorpies verder sterf ʼn hond onder die wiele van die Avanza.  Hy moes, dink ek terwyl ons omdraai en terugry.  ʼn Klein skare vergader en ons luister by mekaar verby, maar almal hoor die hond.  ʼn Klein, fyn gesang in ’n treurige hondetaal styg op uit die gras langs die grondpad.  Een laaste streep skyt is in die slag op die stof geskryf en groepies vlieë baklei reeds in die reuk daarvan.  Wie gaan die hond doodmaak?  Herman is die oudste, dan ek.  Ek kan nie, volg dan maar Herman se rug en die hond se stem die gras in.  Die gras is langer as wat ek is en ek verbeel my ʼn toneel uit The Lion King, dink dan aan Pumba wat vir die volwasse Nala vlug en wat sou gebeur het as Simba nie daar was nie.

Ons kry die hond in ʼn spoor waarin sy bloed reeds drooggeword het.  Hy spartel as hy ons sien; probeer wegkom en alleen wees.  Sy voorpote soek grouplek in die grond, maar sy lyf is lam.  Herman hou ʼn baksteen vas.  Ek het gehoor honde wil alleen sterf.

By Tete is daar spoeltoilette.  Ons stort by ʼn kampterrein in die skaduwee van die enigste Mosambiekse brug oor dié waterweg, dis die eerste keer sedert Vrydag.  (Sedertdien is daar ʼn brug rivieraf gebou.  Die pond sal nou seker droogloop.  ‘n Derde brug is slegs vir treine.)  Daar is nie tyd om krokodille langs die Zambezi te soek nie, ons moet die grens haal voor dit toemaak.  Ons is net te laat en slaap weer in die bakkies by die laaste grenspos op aarde.

IV. Twee wêrelde

Dis Woensdag, 2 Julie 2008 en ons is reeds twee dae vermis.  Later sou ons hoor van die benoude e-posse wat deur onsigbare satelliete bo-oor ons koppe gevlieg het.  Die sendelinge in Chiconono weet net dat ons nog nie aangekom het nie, die ma’s en pa’s weet net dat hulle nie wou hê ons moes gaan nie.  Ons stop by die St Louis Montfort catholic parish in Balaka.  Binne is dit Rome, die hele skepping teen die mure geskilder en marmer waar jy kyk.  Buite in Balaka loer die kinders vir ons.  Hulle ken nie eintlik Engels nie, net “money” en “give”.  Ek gee vir hulle zikomo’s en hulle lag.

V. Die keer toe ons verdwaal het

Dis vieruur en ek pie by ʼn petrolstasie in Mangotchi.  Johann jaag ons aan, ons moet die grens voor 17:00 haal.  Dis net 60 km deur die berge en Malawi se paaie is beter as hul buurlande sʼn.  Die Avanza ry voor; Johann bestuur want hy het al die pad gery.  Ek sit langs hom met ʼn kaart op my skoot.  Dis halfvyf en daar is nog nie berge nie.

Ek lees kaarte soos kinderboeke en weet dadelik daar is fout met dié prentjie.  Ons stop en vra aanwysings.  Voor ons strek die pad uit Monkey Bay toe, dink ek.  Twee vissermanne knik.  “Monkey Bay.  Not far.”  Ek kyk na die kaart en sien hoe die pad in Mangochi vurk.  Ons moes daar al verkeerd gedraai het.

VI. The Beach

Dis te laat vir omdraai en Johann stem in dat ons die nag by die Malawimeer kan deurbring.  Monkey Bay is ʼn armsalige vissersdorpie op die suidoewer van die derde grootste meer in Afrika.  Toeriste reis dikwels hier deur op pad na Cape Maclear, wat beskryf word as “Malawi’s most famous resort”.  Ons sien ʼn bordjie wat Backpackers adverteer, draai regs en sit twee keer in die sand vas.  Almal moet uitklim en stoot, maar daar is nie plek tussen al die kinderhandjies wat wil help nie.  ʼn Halfuur en baie zikomo’s later word die hek van Venice Beach Backpackers vir ons oopgemaak.  Voor ons strek die meer uit.

Daar is ʼn toneel in The Beach waar Leonardo DiCaprio se karakter saam met sy Franse makkers ekstaties deur die palmbome op die skitterwit sand uithardloop.  Dis hoe dit was toe die dertien van ons die bakkiedeure oopgooi en, sommer net so in ons klere in die meer inhardloop.

Daardie nag eet ons slaptjips en hoender.  Ons drink brandewyn en coke in hangmatte, sien hoe die son se weerkaatsing stadig in die dieptes van die water wegsak.  ‘n Vreemde geluid kom van oor die water.  “Mvu!” roep die kroegman en verduidelik met behulp van gebare tot ons “seekoei” verstaan.  ʼn Rusta begin op die sand vuurmaak en roep ons nader.  Sy naam is Captain Banana.  Hoekom, wil ons weet.  “I hava boat” sê hy terwyl hy hout op ʼn hopie pak.  “And where does the Banana come from?” vra een van die meisies.  Hy glimlag dat jy in die donker net tande sien.

Toe die vuur knetter, haal hy ʼn voosgevatte bottel uit.  Die lable kan nie meer gelees word nie, maar ek twyfel of die plakker weet wat deesdae daarin is.  Hy stuur die bottel om, maar die geur wat by die bottelnek uitklim, ontmoedig die meeste om te proe.  Ek vat ’n versigtige sluk.  Soos ʼn lang straaltjie son maak die deursigtige vloeistof dit lig binne-in my.

Teen middernag haal hy ʼn reuse zol uit.  Dis in die blaar van ʼn piesangboom toegerol.  Ook dié bied hy vir ons aan, maar niemand waag dit nie.  Al geluide wat ons hoor is dié van die nag en ons gedagtes.  Omtrent almal het gaan inkruip, ingewurm in slaapsakke, knus op matrasse wat agter in die bakkies was.

Ek dink aan die hond en kan nie onthou wat gebeur het nie.  Het Herman die hond doodgemaak?  Hoe sou hy sy hande was?  Daar is genoeg drinkwater, maar nie vir mors nie.  Het Herman die gebreekte brak gelos om self sy sterftyd te bepaal?  Die ding wat eintlik aan my knaag, deel ek nie met iemand nie.  (Nog nie, dit sou eers ’n jaar later gebeur, nadat ek vir D. ontmoet het.  Maar dít word die hond wat ek óf moet vernietig, óf moet versorg, want hierdie een bly nie in die gras lê as ek daarvan probeer vergeet nie.)

Daardie nag slaap ons op die strand.  Captain Banana hou die vuur tot vroegoggend aan die gang, maar hy is weg toe ons wakker word.  Dis Donderdagoggend en ons is nie meer haastig nie.  Ek krap een van die bakstene uit die warm as en spoel dit in die meer af voordat ek my kamera daarop staanmaak.

VII. Zikomo

In die twee weke wat daarop volg, maak ons ʼn pomp in ʼn rivier reg.  Ons klim ʼn berg en bak pizza in ʼn donkie.  Ek leer (weer) dat “zikomo” eintlik net een betekenis het:  Baie dankie.  En dat die Chewas nie ’n woord vir “hallo” het nie.  Hulle groet mekaar deur vir mekaar dankie te sê.  “Maar hulle gebruik dit dan so baie, asof hulle hele gesprekke met een woord voer” sê ek.  “Dis waar, hulle gebruik dit baie, veral as ‘n groetvorm.  Dalk is hulle net ‘n volk wat baie dankbaar is”, kom die antwoord.

Op pad terug gly ons op ʼn grondpad en ry ʼn klein muurtjie moertoe, die bakkie se agteras vat die grootste punch.  Dit klink of die canopy enige oomblik gaan losskeur, maar ons ry terug, die stukkende bakkie meer padwaardig as ander voertuie wat ons op die Mosambiekse paaie sien.  Op Vilanculos se strand ruil ek my kamera se SD-kaart om.  Ek stap verder sonder om te sien dat die eerste een in die sand geval het.  Dit kom ek agter in die Debonairs op Worcester, die dag van ons terugkoms.

Al wat ek terugkry, is ʼn paar foto’s wat ek toevallig op die sendelinge se rekenaar gelaai het.  Onder andere dié een.  Behalwe vir die herinneringe is dit al wat ek oor het van die keer toe ons verdwaal het.  Toe ons, per ongeluk, die grootste avontuur beleef het.  Al wat ek hiervoor kan sê, is zikomo.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s