As jy lus is vir lekker eet*

* kodewoord

In ʼn ou huis op die hoek van Ryneveld- en Kerkstraat was Beads, ʼn populêre restaurant wat, as ek nou terugdink, nooit regtig vol was nie.  Dit was ʼn groot plek met ‘n ruim, duur spyskaart en so deel van Stellenbosch soos vaksleep en vry-in-Die-Laan.  “Was” is hier die sleutelwoord, want Beads is nie meer nie.

Devonshire House is egter pragtig gerestoureer en huisves weer ʼn restaurant, dié keer ʼn “upscale Pub and social café in the flavo[u]r of an aesthetic London pub”, volgens hul webwerf.  En dit is presies wat the Slug & Lettuce is.

Tydens die restourasie is die onderste vloer van die huis onderverdeel en, behalwe vir the Slug & Lettuce, is daar nou ook twee kunsgalerye.  Dit het tot gevolg dat the Slug & Lettuce ʼn intiemer plek is as wat Beads ooit was.  Die restaurant se dekor – eklektiese fotorame en spieëls teen die mure, met alles van boeke en bottels tot reuse kitch koppies op die rakke – getuig van ʼn weldeurdagte ontwerp en dit voel werklik of jy in ʼn eksklusiewe kantien in ʼn gegoede Londonse buurt sit.

Die restaurant se uitleg is so gedoen dat jy in die kombuis kan inkyk en daar is verskeie opsies vir sitplek.  Soos jy sou verwag, is daar tipiese toonbank met sy kroegstoeltjies en die gebruiklike vate wat, as dit sou omval, tot reg in ’n Indiana Jones-movie kan rol.   Daar is egter heelwat tafels met stylvolle, gemaklike stoele – veral dít verleen aan die pub sy “upscale”-gevoel.  Skuifdeure verander binne na buite en, alhoewel die restaurant nou ‘n groot deel van die gewese tuin beslaan, is daar tog óm die natuur gebou.  Dit maak my bly dat boom waaronder ek vir Koch destyds by Beads ontmoet het, behoue gebly het.

Dit is die tweede keer dat ek daar kom eet.  Die eerste was op ʼn weeksaand en ons het lank vir ʼn tafel gewag.  Hierdie keer bespreek Koch reeds Dinsdag, al wil ons eers Sondag vir middagete aansit.

Anders as die eerste keer, wag ek en Koch nie vir ’n tafel nie, maar vir ’n spyskaart.  Dit is een van daardie lentedae wat net in kinderboeke voorkom en the Slug & Lettuce is lewendig met mense.  Dis die tipe plek waar ’n gesin saam kan eet, waar ’n klomp vriende luid kan kuier of waar ’n besigheidsete kan plaasvind, sonder dat enigiemand ontuis voel.  Helené het saam met ons kom eet en dis eers toe sy ’n paar minute later kom sit dat die kelner spyskaarte bring.  Ek bestel bier, Helené en Koch drink Savanah Light.

Laas het ons burgers geëet, en “eet” is hier kode vir iets verskrikliks wat jy definitief nie by jou ma geleer het nie.  (Wel, dalk as jou ma Yo-landi Vi$$er is.)  Terwyl ons geëet het (kode, onthou), was maniere die laaste ding waaraan ek gedink het.  Mens wíl met ’n mond vol kos praat.  Nee, jy wil sing asof jou tafel op die stel van the Sound of Music is.  Koch, wat ook al pizza daar gehad het, sukkel om tussen dié twee opsies te kies.  My mond kwyl by die gedagte van 500g se “very slow roasted beef ribs”.  Helené bestel die “De-boned pork belly rib burger” terwyl Koch by sy staatmaker bly – die “Bacon and melting cheese burger”.

Wat my egter baie ontstel (en dit gebeur altyd met my, vra maar vir Koch), is dat hulle nie meer ribs het nie.  Nou staan die kelner langs my en ek hoor hoe sy potlood teen sy boekie tik.  “Die 250g rump, dan.  Rare,” kies ek vinnig.

Is dit onredelik van my om kwaad te wees?  Ek verstaan tog dat ’n besige restaurant wat daarop roem om slegs vars bestanddele te gebruik, iewers nie genoeg van alles gaan hê nie.  Maar dan voel ek dis die kelner se plig om ons in te lig, en om ten minste om verskoning te vra vir die 1.7 miljoen ongelukkige tastebuds wat nou grootskaalse telleurstelling verduur en aan rebellie dink.  (Terloops, die mens het sowat 10,000 smaakkliertjies.  Volgense Google.  En Google weet alles.)

Dis net ’n paar minute voordat ons borde voor ons ingeskuif word.  Het ons regtig lekker gekuier of was die kombuis net besonders vinnig?  (Ons hét lekker gekuier, en kon nog langer gesels het as dit nie vir die blitsige kombuis was nie.)  Dis dalk wat the Slug & Lettuce so heerlik maak – dit voel soos fast food, maar dit proe beslis nie so nie.

Dan sak ons weg.  Ek kan dit net op maniere beskryf wat Emiesie Schoeman sal laat frons.  Als is regtig lekker – die kos, die atmosfeer, die geselskap.  Mind you, op daardie stadium het die bier reeds my lewer bereik.

Tog was dit nie soos die eerste keer nie.  Daar was ‘n groot stuk vet aan die rump – dit voel of ek ten minste 50g saam met die bord terugstuur – en ek kan nie help om te dink dat ek vir R50 meer ’n 500g stukkie hemel by the Hussar Grill kon kry nie.  (Dis egter dieselfde mense wat the Hussar Grill bedryf wat aan die stuur van the Slug & Lettuce is.)  Helené sê haar burger was nie heeltemal wat sy verwag het nie, want die de-boned pork belly rib was vir haar heeltemal te veel soos ‘n patty.

Die bykosse is wel besonders.  Frittes word gratis bedien, maar ‘n skeppie “real mayo” en uieringe is van die ekstras wat bestel kan word (en is beslis die geld werd).  Oor die uieringe wil ek sonnette skryf en Koch het heel pad huis toe oor die mayo gesels.

The Slug&Lettuce se troefkaart is egter hulle uiters billike pryse.  Pizza’s jaag jou tussen R50 en R80 uit die sak, burgers kos tussen R50 en R60 en hul grills (rump, sirloin, boerewors en hoender, maar nie alles saam nie) is almal minder as een pers banknoot.

Sou ek weer die rump daar eet?  Seker nie, want daarvoor het Koch se kos net te lekker gelyk.  Maar of ek weer by the Slug & Lettuce sal eet, is daar geen twyfel nie.  As jy nog nie dié restaurant in die Devonshire House besoek het nie, ontneem jy jou van ’n bucket-list ervaring.  Doen dit, al is dit net om aan Emsie Schoeman se gesigsuitdrukking te dink.

the Slug & Lettuce – Stellenbosch

Devonshire House,
Ryneveldstraat 13, Stellenbosch
021 883 2877

Besoek hul webwerf vir ’n volledige spyskaart.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s