Die keer van die konfyt

Hulle is danksy Robert Atkins en Patrick Holford – of dalk weens die resessie – deesdae skaars, maar hulle bestaan steeds.  Daardie vet, kwaai tannies wat op kerkbasaars klets, koeksusters koop en met kinders raas wat roomys op hul klere mors.  En as die dominee verbykom, wonder hulle hardop wat die Skrif sê, want agter ʼn bakhand is reeds geskinder oor die Sondagskool se spookhuis wat sekerlik Satanisties is.

Ek stel my só tannie voor toe my pa vir my van sy Tant Hannie vertel.  My pa, ʼn gebore soettand, is rond en grys genoeg om Kersvader oortuigend te vertolk, en as hy oor Tant Hannie praat, weet ek dis in die tyd toe vet tannies volop was en die kerkraad ʼn spookhuis onder die verhoog streng sou verbied het.  Hy is in ’55 gebore, so dit moes iewers in die jare sestig plaasgevind het, die keer van die konfyt.

Vir my pa, die oudste van drie seuns wat op ʼn plot buite Kempton Park grootgeword het, was daar geen groter bederf as winkelkonfyt nie.  My ouma Joey – ʼn skraal, vriendelike vroutjie – het van konfytkook geken en was dankbaar vir die gedienstige appelkoosboom voor haar kombuisvenster, al was die seuns goed gatvol vir die growwe oranje-jellie wat alewig op hul brood gesmeer is.

Soms het hulle op die dorp gekom waar die mammas van ryker maatjies konfyt gekoop het.  Gekoopte appelkooskonfyt was fyn en sag en het altyd dieselfde geproe, en soms was die geluk regtig aan hulle kant en dan was daar aarbeikonfyt.  Dit was in die dae voordat aarbeie onder rye en rye plastiektonnels ryp geword het, en daarom selfs raar vir winkelrakke.  Dis beslis nie iets wat in ʼn spens op ʼn plot sou wees nie.

So gebeur dit dat my pa en sy broers by oom Sam en tant Hannie op Cathcart gaan kuier.  Dié Oos-Kaapse dorpie is skaars groter as sy Wikipedia-inskrywing en Oom Sam is burgermeester én begrafnisondernemer, al dra Tant Hannie die broek.

Hannie het gehou van voorbereid wees.  Ná aandete is die tafel dadelik weer vir ontbyt gedek en ʼn netjie is oorgegooi.  Dis hoe my pa-hulle die kombuis aantref toe hulle laataand daar aankom.

Met hul aankoms – onthou, dis ʼn ver ent van Kempton Park af – sê Sam dat die kinders sekerlik honger is, en vra versigtig of Hannie nie vir hulle ʼn ietsie wil gee nie.  Sy bied brood aan, en hulle knik met monde wat water, want op die tafel, onder die net, het hulle die potjie met die rooi konfyt gesien.

Een snytjie elk, sê Hannie, maar die kinders dog sy vrae.  “Nee, twee snye vir elkeen, asseblief Tannie,” kom die antwoord in ʼn koor, want met aarbeikonfyt kon berge brood verorber word.  “Met dáái konfyt, Tannie” sê hulle en wys na die rooi potjie.

Tant Hannie maak dit duidelik dat kos nie in haar huis gemors word nie, en dat hulle sal sit tot elke krummel opgeëet is.  “Natuurlik, Tannie,” belowe hulle voordat sy dik snye brood sny en, sonder om skaam te wees, konfyt smeer.

Met die eerste hap besef my pa hy het hom misgis.  Die mondhoeke van sy broers lieg ook nie, wat hulle krul ondertoe met elke byt van die tamatiekonfyt.

Dis dan hoe dit gebeur het dat my pa tot vandag toe nie sy mond aan tamatiekonfyt sit nie.  Hy, oom Martin en oom Danie moes elke krummel onder die wakende oog van die kwaai tant Hannie opeet.  Of tant Hannie hierdie misverstand sien kom het, weet ek nie, maar ek stel my haar voor op ʼn kerkbasaar waar sy en haar susters oor dié storie kekkel.

Van hierdie jaar bly daar nog net ʼn paar happe oor.  Dalk het jy ook gedink dis arbeikonfyt wat in 2012 op jou wag, net om te laat te besef dat daar nie keer aan dié konfyt is nie.  Wat bly oor?  Hard sluk, en moed hou.  Dis amper verby.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s