Die lewe tussen pikkewyne bekyk

Die lewe tussen pikkewyne – Jasper van Zyl

Studentedigters is lief vir verse oor die liefde.  As sentrale tema word die liefdeservaring (of gebrek daaraan) gewoonlik besing, meestal vals, deur een wat toondoof is.  En “hart” rym áltyd met “smart” (so ook “pyn” met “wyn”).

Jasper van Zyl se Die lewe tussen pikkewyne fluit egter ’n ander deuntjie.  Inteendeel, in die gekwetter wat studente “Poësie” noem, is hierdie jong digter se debuutbundel ’n catchy liedjie deur ’n talentvolle kunstenaar.

Van Zyl, wat reeds sedert skool aan sy digterskap slyp, se gedigte word in 2005 in Nuwe Stemme 3 gepubliseer en sedertdien verskyn sy verse in verskeie bloemlesings.  In 2011 publiseer Tafelberg Die lewe tussen pikkewyne, ’n dun bundeltjie met 38 verse.  Nie te versmaai vir ’n student wat hom eintlik met voltydse studie in die geneeskunde op Tygerberg besig hou nie.

Soos die spreekwoordelike dinamietpakkie het hierdie bundel geweldige trefkrag.  Inhoudelik wissel die verse van streng metaforiese, beeldryke verbeeldingsvlugte tot ongeforseerde, fyn afgewerkte narratiewe waarin ’n absurde lewe tussen die alledaagse geskets word.  Vandaar dan ook die bundel se titel.

Op die bundel se omslag word ’n reeks swart-en-wit (maar vermoedelik blanke) manlike figure gesien:  almal formeel geklee, maar verskillende houdings word gehandhaaf.  Dié figure, wat na my mening aan ’n ontmoeting van direkteure uit die ou bedeling herinner, is in ’n kring gerangskik en het hul voete na binne, waar die titel verskyn.  ’n Jong man, kaalvoet en kaal bolyf, pryk in ’n kleurvolle uitklokbroek – deel van die sirkel; maar ook glad nie.  Die mans self lyk soos pikkewyne en ek kan nie ignoreer dat die rangskikking my aan ’n igloe laat dink nie – ’n igloe waar die jong man, moontlik Jasper van Zyl self, die ingang tot hierdie wêreld in die bundel is.

Die bundeltitel kom uit die gedig “dit is nes jy daar sê, ja” (bladsy 20).  Hier het die leser met ’n tweespraak te make:  “soms is dit só dat een mens / deur ’n ander kan praat”, sê die digterspreker en ’n beeld van die digter se alter ego word opgeroep.  In ’n tafereel waar digterspreker en hierdie Ander hulself “op my bleek roeiboot” silwer visse uit die see trek, kom die “nag se skitterende trommespel” al nader.

“ek droom gisteraand dat ons strand,” sê jy
en leun lui terug,
jy praat die taal van meeue.

eers merk ons die ysberg op
toe ons bootjie daarteen breek.
in die begin speel jy teësinnig huis
en later leef ons heerlik tussen pikkewyne.

in ons igloe slaap ons styf teen mekaar.
ons weet nou al hoe mens hier warm word.
jy’s pragtig, jy’s yslik mooi
en jy blaas vaal rook wanneer jy buikspreek.

Die konkrete wêreld van die student is merkbaar in verse soos “film” (8), “beskrywings van die noodgeval” (23) en “die wilde tuinekspedisie” (33), maar anders as die tendens onder studentedigters, is die gedigte nie tot daardie wêreld beperk nie.  Veral “die dorp” as tuiste of woonplek skakel goed met die idee van grootword en verwysings na “die woud” en “die see” skets ’n abstrakte ruimte wat simbolies van die onderbewuste is.

Dis die landskap van die lyf wat egter uitstaan, want “in die glim agterkamer van my skedel” word daar ingesluimer (“die bleek inboorling” 15), die “twee oë is ’n tronk” wat ’n “ongerepte en naakte visioen” aanskou (“tronk” 10) en in die puik vers “jy is aan die stuur” (9) word die geliefde se lippe “’n heldedaad”; die vingers “stingels / uit my vel”.

En ja, daar ís verse oor die liefde.  Die leser ontmoet vir Anine wat haar yskasmagnete rangskik (“film” 8) en “die nuwe meisie in die skool” wat “saans, wanneer sy bad / die water met haar hande roer” (“mêlee” 12).  ’n Persoonlike hoogtepunt is egter “as elani hooneberg kom kuier” (40).  Ook die liefdesteleurstelling word op ’n akkurate, roerende wyse onthou en herleef in “eers hier, dan daar, dan weer hier” (21):

eers hier, dan daar, dan weer hier

jy spook by my in die oggende.
saans trek ek ’n oorbaadjie aan
en gaan kruip oor jou laaste lêplek.

dis nie dat jy dood is nie.
om te sterf verleen grasie.  toets geheue
– die resep vir immortaliteit –

maar dis nie asof jy dood is nie!
jy sit steeds oorkant my in die lesingsaal
terwyl my dik gekwabde hart fibrilleer.

jy is gemaak van ’n swewende rib
wat uit my toraks gesny is;
dieselfde ding het glo voorheen gebeur

toe die wêreld nog jonk en stil was.
maar nou dat jy nie meer hiér is nie,
voel ek weer die glip van jou naels op my arm

en dis juis wat ek nie verstaan nie!
die een oomblik flikker jy by bunsenvlam
en ruil ons hitte uit
dan is jy bloot ’n damp.

Moet egter nie dat die liefdesgedigte jou flous nie.  Van Zyl “verwoord moeiliker as wat jy dink” (42) en sy gedigte is gelaai met komplekse metafore wat die leser tot kopkrap oorhaal, maar uiteindelik teruglok om weer te lees.  Ek moet, soos die digter, erken dat my begrip soms “te anemies vir die bladsy” is, en dis dalk juis hier waar die bundel se swakheid lê: dié verse móét herkou word.

Die lewe tussen pikkewyne is ’n knap debuut.  My hoop is dat Van Zyl nie van die verhoog van kitsroem sal aftrap nie (’n digters is immers ’n rockstar, sê Loftus Marais), maar sy snare fyn sal span en sy kuns bly beoefen.

(‘n Korter weergawe van hierdie post verskyn in Die Matie van Woensdag, 28 Maart 2012.  Die weglating van ‘n werkwoord in een van die gedrukte sinne het die potensiaal om tot ‘n nuwe post te ontwikkel.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s