Brink en die ratkas se binnekant

Daai ou BMW’s wat spesiaal laer gemaak is, jy weet, met die wollerige dobbelstene  wat aan die truspieëltjie hang en wat bykans geen kattebak het nie, want die boombox moet iéwers inpas sodat jou aankoms reeds myle vooruit in lae frekwensies deur die lywe van niksvermoedende verbygangers kan fibrilleer.  Wel, ek was eendag ’n passasier in só kar… 

Dis Maandag en die US Woordfees se skrywersprogram het afgeskop.  My hande sweet op die stuurwiel van my baas se Tazz terwyl ek probeer om die vyf vrae wat ek vir André P. Brink bedink het, te oefen.

Die onderhoud met hierdie gróót skrywer vind op Knorhoek plaas, ’n wynlandgoed in die lies van die Simonsberg.  Dit word verfilm.  Ek sluk swaar en sweet baie.

Ek wil nie hê die kar moet gesteel word nie, so ek druk die gearlock se knoppie in en loop twéé keer terug om seker te maak die kar is wel gesluit.  Dit is.  Ek vloek onder my asem.  En swéét. 

Brink word nie deur engele ingedra soos ek dit my voorgestel het nie.  Hy loop stadig oor die gruis; vat aan die reling by die trap.  Sy hemp en sy oë is blou.  Hy antwoord my vrae eerlik en uitvoerig sonder om te lank oor sy antwoorde te dink.  Waai een keer ’n vlieg weg asof hy nie in die kamera se blik is nie.  Ek bedank hom vir sy tyd en voel skoon lam toe my lyf uiteindelik ontspan.  

Ná die onderhoud moet ek terugry Stellenbosch toe, maar ek kan nie.  Die ratte is gesluit.  Ek vroetel met klam vingers aan die sleutels.  Aan die bos in my hand is daar karsleutels, kantoorsleutels, huissleutels en stukkende sleutels, maar niks wat die ratkas wil loswikkel nie.  Nou sweet ek al deur my hemp en vloek nie meer onder my asem nie.

In trurat terugry kon ek nie, daarom kry ’n geleentheid dorp toe saam met die kameraman.  Dis nou ’n fout, sê hy, maar ek dink aan ’n ander woord wat met ’n ‘f’ begin. 

Terug by die Boektent moet ek my blaps aan my baas verduidelik.  Ek probeer nog ’n diplomatiese antwoord bedink, maar voor ek my kry, blaker ek die kil waarheid uit:  Ek het kak aangejaag.  Hy lag en sê hy het nie eers geweet hy het ’n slot vir die ratkas nie.  Vir my is dit ’n onmoontlike situasie.

Maar vir my baas is alles egter moontlik.  In ’n japtrap het hy die nommer van ’n slotmaker.  Sorry, tjom, sê die sleutelsnyer, hy het nie die regte tools om by ’n gearbox in te breek nie.  Maar hy’t ’n contact.   

Tien minute later stop ‘n wit BMW voor die hek.  Ons vleg deur die verkeer en vlieg laag oor die pad, die klank uit die kar altyd ’n halwe blok agter ons.  Daar gekom verduidelik hy aan my hoe ’n ratkas en die slot werk.  Vier minute, sewe en vyftig sekondes en R400 later, is die ratte los.

Dís hoe ek kennis met André P. Brink en ’n ratkas se binnekant gemaak het.  En, as jy ooit een nodig het, ek het nou ook ’n contact.

(Hierdie post verskyn in Die Matie van 28 Maart 2012 in die rubriek “Kodes uit die Kens Spens”)

2 thoughts on “Brink en die ratkas se binnekant

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s