Omsendbrief #002

East Lynne 1
Die Laan
Stellenbosch
7600
3 Maart 2011; 09:54

Beste mnr. Kentridge

Ek kon u gisteraand in die oë kyk.  Ook my een wenkbrou laat groter lyk in ’n poging om van die portret ’n spieël te maak.  Waarna kyk u, het ek gewonder.  In hoeveel oë moes u al in staar?

U is u besoek eintlik aan Amanda Botha te danke – sy het die uitstalling georkestreer en is vanjaar vir die tiende keer die kurator by die US Woordfees.  U is egter u bestaan aan Paul Emsley verskuldig, ’n kunstenaar wat op vanjaar se fees vereer word.

Sedert November 2011 werk ek (deeltyds) by die US Woordfees, as assistent vir mnr. Melt Myburhg.  Mnr. Myburgh, die Woordfees se digter en skrywer en samesteller van die skrywersprogram, se debuutdigbundel Oewerbestaan het verlede jaar die Ingrid Jonker-prys ontvang – ’n pouveer in die hoed van enige digter.

Saam met mnr. Myburgh moes ons administrasie administreer, reëlings reël en onsself blou in die gesig bemark – ironies, want die feestema vanjaar is “Groen”.

Die dertiende US Woordfees is dan ook gisteraand by die Sasol Kunsmuseum – daar waar u in die uitstalling tuis is tot 31 Maart 2012 – deur prof. Dorothea van Zyl, Woordfees direkteur, geopen.  Nie met skriflesing en gebed nie, maar met die gedig “Groenspreeu” deur PW Buys:

Jy kan die groenspreeu nie vertrou,
hy lieg die aarde pimpelblou.

Hy fluit die hemel lowergroen,
paljas ‘n pruim tot perlemoen.


Hy tierelier die suring soet,

die katjiepiering swart soos roet.


Hy vonkel, konkel, toor die son
tot ‘n ranonkelrooi ballon.

Die groenspreeu is ‘n kunstenaar
soms lieg hy selfs die waarheid waar.

Frank Kidbourn, kunsversamelaar en direkteur van die Bright Stigting, het op treffende wyse woord by die visuele gevoeg en feesgangers aangeraai om verder en fyner na die werk van Paul Emsley te kyk.  Neem byvoorbeeld enige van die  kunstenaar se blomsketse, het hy gesê.  Ons is geneig om in stille verwondering oor die detail van die blomme vas te val, dat ons vergeet om na die blompot te kyk waarin die kunswerk geanker is.

Een van my gunstelinge in die uitstalling is die kunstenaar se selfportert.  (U moet skerp regs kyk vanwaar u gemonteer is, en sal dit selfs dan maar net gedetelik sien.  Feesgangers sal dit in die middel van die galery se linkermuur vind.

Emsley, wat deesdae in Engeland woon, het self ’n paar woorde in keurige Afrikaans gespreek.  Wat my veral bygeval het, is die volgende:

Ek maak nie ’n werk klaar nie, ek bekommer dit klaar.

“Klink dit nie net bekend nie?” het my kêrel gevra en gegrinnik.  En ek ook, want die kunstenaar is immers ‘n leuenaar en stilbly ook ‘n antwoord.

Ek wens u ’n wonderlike fees toe, mnr. Kentridge.  Mag u nog baie oë ontmoet.

Die uwe,

Stephan Meyer

NS.  Die spreekwoordelike picture paints a thousand words.  Emsley se werk spreek boekdele:

One thought on “Omsendbrief #002

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s