Breinstrek vir beginners

NIE ‘n pleidooi om die e-pos “uit die rektor se kantoor” te lees nie

Lees jy ooit die rektor se vonkpos? Jy weet, daardie e-pos wat “uit die rektor se kantoor” sporadies in jou inbox beland en vir ʼn wyle ongelees lê voordat dit met die kliek van ʼn knoppie finaal vernietig word? As jy nie weet waarvan ek praat nie, bewys jy juis my punt. As jy dit al gesien het en dit elke keer met moeite na “Deleted Items” moet skuif, hier is raad: Shift-Delete.

Hierdie is geensins ʼn pleidooi om nou prof. Russel Botman se e-posse te begin lees nie. Dis ook nie ʼn slinkse poging om ʼn opsomming van sy nuutste nuusbrief te bied nie. Inteendeel, voordat ek re(k)toriese omsendbriewe wil lees, wil ek eers weet of die rektor régtig tyd het om vir ons almal ʼn e-pos te tik en, tweedens, wáár de hel hierdie kantoor is waaruit die e-posse kom.

Tog vang my oog ’n paar woorde in die preview-pane, maar te laat – ek het dit reeds na ʼn kuberkomposhoop gestuur. Dis nie maklik nie, maar heeltemal moontlik om die uitgewiste e-pos op te spoor en van die grootbaas se “eie eerste dae op universiteit” te lees. Ek laat dit nou baie meer opwindend klink as wat dit werklik is, maar in kort gaan die brief oor eerstejaars in maroenhempies en dat daar ʼn raadsverkiesings is. Skuus, ek het belowe ek gaan nie opsom nie.

Uit die aard van die saak laat dié e-pos my oor my eie eerste dae as student dink en ek besef hoe baie ek as mens verander het. Nie net dink ek anders oor baie dinge nie, ek dink baie meer oor ander dinge. Die Amerikaanse skrywer Oliver Wendell Holmes het gesê A mind that is stretched by a new experience can never go back to its old dimensions. En as dit by nuwe ervarings kom, is die universiteit reg om jou brein behoorlik te strek.

Vir die gewone eerstejaar – nog onskuldig, onkundig en onder die indruk dat Springboks net ’n rugbyspan is – lê die drie-eenheid van Matie-tradisies voor: die vak wat jy dop, die akker op jou kop en die gesogte soen waar jou hart die hele Laan af galop. As gesoute studente het ek nie net vele e-posse uit die rektor se kantoor ignoreer nie, ek het ook probeer én misluk om in isiXhosa te kliek. Ek kan sê dis seer as die akker onverwags op jou kop val en my eerste soen op Stellenbosch was om 02:00 op die oggend van 31 Oktober 2007. In Die Laan, natuurlik.

Daar is egter soveel meer wat Matieland bied. Ek het al beleef dat Moksie geletterd is. Ek het al ervaar hoe koud Bothmaskop in die nag kan wees. Ek weet waar om by Coetzenburg ongesien oor die swembad se heining te klim. Ek moes ook al vir USBD weghardloop en hoogs hung over hardloop om ’n halfklaar-taak in te gee. En nou het ek ook al ten minste één e-pos uit die rektor se kantoor gelees.

My raad aan jou: Laat hierdie universiteit jou brein op meer as een manier strek. Of jy ’n jong boompie of ouhout is, onthou dat jou kerfstok plek vir baie kepe het.

(Hierdie post verskyn in Die Matie van 22 Februarie 2012 in die rubriek “Kodes uit die Kêns Spens”)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s