1 pak versiersuiker, 2 koppies meel en 7 soorte gebed

Die eenvoudigste koek en sy minder maklike (maar heerlike) modderbedekking

Hierdie post bevat taal wat sensitiewe lesers mag ontstel. 

Ek is geen koskokkedoor nie.  Inteendeel, ek het al van eiers swael gemaak en wors só gebraai dat slegs Sasol dit kon gebruik.  Selfs hierdie maklike resep vir smelt-in-jou-mond sjokoladekoek het ek al verkeerd gelees.  Wees gewaarsku:  daar ís ’n verskil tussen karringmelk en karamel…

Maar enige amateurkok wat sy sout en peper werd is, leer en eksperimenteer.  Hierdie resep is eenvouding, want tussen bestanddeel en beslag is daar net drie stappe.   As jy dit eers pro(e)beer het, sal jy nie sommer iets anders wil maak nie.  Tensy jy natuurlik lus is vir hoender.

Die beslag

Vir die beslag het jy nodig:

  • Meel (2 koppies)
  • Suiker (2 koppies)
  • Sout (nie 2 koppies nie, asb.  Net ’n knippie)
  • Botter (1 koppie)
  • Kakao (2 eetlepels)
  • Water (1 koppie)
  • Eiers (2, effens geklits)
  • Vanilla Essence (1 teelepel)
  • Koeksoda (1 teelepel)
  • Karringmelk (½ koppie – jy kan dit met melk vervang, NIE karamel nie*)

 Stap 1:

Sif die meel, suiker en sout saam.  Dis ook ’n goeie idee om die oond nou aan te skakel indien jy dit nog nie gedoen het nie.  180°C, asseblief.

Stap 2:

Smelt die botter in ’n kastrol, voeg die water en die kakao by en meng goed.  Bring tot kookpunt en gooi die warm mengsel oor die droë bestanddele.

Stap 3:

Klits die eiers, vanilla, koeksoda en (karring)melk saam en roer dit bietjie-vir-bietjie in die sjokoladebeslag totdat dit goed gemeng is.  Ta-daa!  Die beslag kan nou in die koekpanne geskep word.  (Onthou om die koekpanne te smeer.  Moenie vra nie – doen dit net.)  Bak vir 40 min, en toets dit met enige iets behalwe jou vinger.  As daar nog deeg aan die toetspen/vurk/mes vassit, bak dit vir nog 5 min en toets weer.  Ons oond,  sMelt, neem 45 min.

Sien, so maklik soos een, twee, drie.

Die versiersel

Die versiersel vir hierdie koek is ’n storie op sy eie en sedert my laaste poging het daar ‘n tweede weergawe ontstaan.  Die eerste is ’n maklik-vinnig-lekker-weergawe wat maklik, vinnig en lekker is.  Die tweede is ’n afsloof-voor-die-stoof, uitslaan-in-koue-sweet, o-fok-ek-gaan-die-huis-afbrand, bid-bietjie-bid-baie-goeie-genugtig-ek-moet-die-resep-kry!-variëteit wat, um, vanselfsprekend is.

Weergawe 1:

Jy gaan hierdie bestanddele nodig hê:

  • Botter (½ koppie)
  • Kakao (2 eetlepels)
  • Melk (2 eetlepels)
  • Versiersuiker (1 x 500g pak)
  • Vanilla Essence (1 teelepel)

Metode:

Smelt die botter in ’n kastrol.  Voeg die kakao en melk by en meng goed.  Verwyder die kastrol van die stoof en voeg die versiersuiker.  Klits goed en voeg die Vanilla Essence by.  Siedaar.

Jy kan dit oor die koek smeer/gooi/laat loop terwyl die versiersel nog warm en die koek aan die afkoel is.

 Weergawe 2:

Hierdie minder-maklike weergawe het ontstaat toe ek verlede Sondag vir Liana Roos, ons kantoorbestuurder, ‘n verjaarsdagkoek gebak het.  Ek het eers te veel versiersuiker by die botter gegooi, wat op ‘n stoofplaat was wat te warm was.  Gevolglik het die suiker begin brand en toe ek dit met die melk probeer blus, gooi ek te veel in.  Dit dwing my om oor te begin, net om te besef daar is toe nie ‘n ekstra pak versiersuiker nie.  En wat doen jy as jy versielsel nodig het, maar nie genoeg versiersuiker het nie?  Wel, lees voort, en vergewe die doelbewuste weglating van beeldmateriaal.  Trust me, dis beter so…

Jy het egter hierdie dinge nodig:

  • Lemoenskil en sap (van ½ lemoen) óf Vanilla Essence (1 teelepel) én Melk (nóg 1 eetlepel)
  • Botter (1 koppie)
  • Meel (½ koppie)
  • Melk (2 eetlepels)
  • Versiersuiker (½ koppie)
  • Donkersjokolade (1 x 180g staaf – as jy meer as 2 rytjies “proe”, koop 2 slabs)
  • Kakao (2 eetlepels)
  • Eiers (1, maar die dop kan jy weggooi)
  • Rooiwyn (1 glas) of Tequila (2 shots)

Metode:

  1. Sit Enya aan.  Of soortgelyke musiek wat ’n sielskalmerende effek het sodat jy vir ten minste 30 minute kan mediteer.  Probeer in hierdie tyd nie dink aan die uitdaging wat op jou wag of die toestand van absolute chaos waarin jou kombuis gaan wees nie.
  2. Sodra jy reg is (jy sal weet wanneer jy reg is), rasper die lemoenhelfte se skil en druk die sap uit.  Bêre dit eenkant, jy gaan dit later moet gebruik.
  3. Eet nou die ander helfte van die lemoen – vir energie.  As jy nie van ’n lemoensmaak in jou sjokoladekoek hou nie, is jy moontlik simpel of allergies.  In dié uiters raar geval gaan jy ’n vanilla-smeer vir die koek maak en hoef jy dus nie die lemoen te rasper en uit te druk nie.  As jy dit nou klaar gedoen het, ai.  Gooi weg en wees spyt dat jy toe maar nie vir daai Vitamien B-inspuiting gegaan het nie.
  4. Smelt die botter in ’n kastrol en voeg die meel by.  Roer dit goed totdat dit ’n pasta vorm.  Roer die melk by – ons gaan ’n stywe witsous maak.  Dit is belangrik om seker te maak die sous is gaar voordat jy na die volgende stap gaan.
  5. Gooi nou die versiersuiker by en roer goed.
  6. Terwyl jy roer, moet jy die sjokolade smelt.  Doen dit in ’n dubbelkoker, maar as jy – soos ons – nie in ’n hotel bly nie, kry ’n pot water aan die kook, prakseer jou sif só dat jy ’n glasbak daarin kan balanseer waarin jy dan die sjokolade sorgvuldig breek en heeltyd roer sodat dit nie brand nie.  Maak seker daar is genoeg water in die pot, maar min genoeg dat dit nie aan die glasbak raak nie.
  7. Ek dink stap 7 is hierbo vervat.  As ek reg is, behoort altwee jou hande nou aan die roer te wees.  Jy gaan moontlik ’n assistent nodig kry om die sweet van jou voorkop af te vee.
  8. As die sjokolade amper-amper klaar gesmelt is, skep ’n klein bietjie van die soet witsous in ’n bakkie en bêre vir later.  Selfs al het jy nie die lemoen gerasper en uitgedruk soos ek gevra het nie.  Moet egter nie ophou roer nie – gebruik jou mond op die houtlepel vas te byt en jou nek om die skepwerk te doen – as jy nie lyk soos ’n kameelperd wat water drink nie, doen jy dit verkeerd.
  9. Sodra die sjokolade gesmelt is, voeg dit by die soet-witsous en verwyder die kastrol van die hitte.
  10. Voeg die kokoa by.  Jy mag huil as jy die laaste bietjie poeier uit die houertjie skud en weens uitputting daardie tweede lepelvol laat val en nou eers winkel toe moet gaan om nog te koop.  In hierdie geval kan jou assistent jou troos en die Enya weer aansit.
  11. Hou moed – dis amper die einde.  Breek die eier in die bestaande mengsel en roer goed.  Die versiersel behoort nou ’n gladde tekstuur te hê.  Indien dit nie het nie, gooi weg en begin oor.
  12. Terwyl die versielel afkoel, gaan ons die Lemoen/Vanillasmeer maak.
    Vir die Lemoensmeer:
    – Voeg die gerasperde skil en die sap by die (sjokoladelose) soetwitsous            daardie bietjie wat jy uitgeskep het.  Jy hét daardie bietjie uitgeskep, of hoe?  Ai.
    – Roer goed.
    – Smeer dié oranjerige loperige goo oor die onderste helfte van die koek.
    – Sit die boonste helfte van die koek op die onderste helfte.
    Vir die Vanillasmeer:
    – Sak jou kop in skaamte omdat jy nie van lemoen hou nie.
    – Voeg die Vanilla Essence en die melk by die uitgeskepte soetwitsous en meng goed.
    – Smeer dit oor die onderste helfte van die koek.
    – Sit die boonste helfte van die koek op die onderste helfte.
  13. Die laaste stap is die lekkerste.  Kry iemand anders om die kombuis op te ruim – moontlik jou assistent – terwyl jy jou koek na hartelus met die heerlike gladde sjokolademodder bedek en van blydskap straal dat jy geseëvier het en ten spyte van jou moeilike kinderjare toe nie ’n fokop is nie.

Probeer gerus hierdie resep met sy kort-of-lank versiersle.  My uiteindelike poging was besonder suksesvol:

*Jy kan dit met dieselfde hoeveelheid karamel vervang.  Maar bak dan die koek heelwat langer en moenie vir jou gaste sê dis ’n sjokoladekoek nie)

5 thoughts on “1 pak versiersuiker, 2 koppies meel en 7 soorte gebed

    • Koek vra seker vir koekmeel, maar ek sal nie verbaas wees as ek een keer per ongeluk iets anders gebruik het nie. Ek kan egter met relatiewe sekerheid sê stuifmeel gaan nie werk nie.

      • Jy sal verbaas wees – daar is nog Maizena ook waarmee mens kan koek bak, maar laat ek jou nou nie heeltemal afsit van koek(bak) nie😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s