Shakespeare gone Wild

Die slap! (woosh! bam! whack! en wham!) van slapstick.   

The Comedy of Errors; Maynardville Opelugteater, 10 Jan – 18 Feb 2012; regie:  Matthew Wild

Dis weer tyd vir die jaarlikse Shakespeare-in-the-Park by die Maynardville Opelugteater en vanjaar word Wikkelspies se kortste en een van sy eerste toneelstukke opgevoer – The Comedy of Errors.

Maar ek is effens benoud toe ons met piekniekmandjies verby die teater se ingang stap en ek ’n blik van die verhoog kry.  Efese lyk soos Chinatown…

Die plakkaatIn Die Burger het ek gelees dat die jong regisseur Matthew Wild sy inspirasie vir die ontwerp uit 1970’s Kung Fu-films geput het – ’n kreatiewe besluit wat duidelik op die plakkaat waarneembaar is.  Met die uitsondering van The Karate Kid  – en ook maar net omdat ons dit op video gehad het en nie M-Net nie – was ek nog nooit ’n fan van Chinese skop-en-slat-die-badguy-pap-flieks nie.  In kort:  Ek het reeds voor die piekniek besluit dat ek nie van hierdie toneelstuk hou nie.

Oudergewoonte lees ek die program terwyl ons vir die vertoning wag.  Ek herken net Wilhelm van der Walt se naam in die program, maar Koch is vinnig om uit te wys dat die rol van Dromio of Syracuse deur Rob van Vuuren gespeel word.  “Wie’s dit?” wil ek weet, en Koch is min ingenome toe hy verduidelik dat dit Twakkie van The Corné and Twakkie Show is.

Die stel herinner aan daardie kleurvolle houtblokkies waarmee ons as kinders gespeel het en ’n trap regs verbind die verhoog met ’n platvorm in die boom.  Dit het tot gevolg dat die stelontwerp moeiteloos met die teater saamsmelt – iets wat die ontwerpers doelbewus wou regkry, sê Wild in die regisseursnota:

Designers Angela Nemov [set and costume] and Kobus Rossouw [lighting] were determined to create a site-specific design, a curved wall shaped by the amphitheatre’s greenery, with lanterns linking audience and stage, resisting any urge to treat the venue as a proscenium arch theatre.

Aan die linkerkant vorm die boublokke ’n muur met verskeie venstertjies wat later wonderlik deur die spel benut word.  In een van daardie vensters is ’n Chinese meisie – ’n DJ, klaarblyklik.  Sy is heeltyd teenwoordig, bewus van wat onder haar op die verhoog aangaan, maar sonder dat die karakters hulle aan haar steur.  Random, ja…

Koch se (illegal) foto van die stelWanneer die vertoning begin, kom ’n reuse panda ingewaggel en binnekort word Efese ’n lewendige handelstad iewers in die Ooste.  Wild verduidelik dié bisarre ruimteverskuiwing in sy regisseursnota:

Too many productions have turned Ephesus into a tatty holiday town on the Mediterranean […] Ephesus must be a location in which the foreign characters perceive a great deal of danger, mystery, magic and ‘otherness’.  It is a mercantile city, where profit and business seem to be high in the mind of most of the inhabitants.

Met ’n wye reeks clichés kry The Comedy of Errors dit reg om hierdie Ooste te verkoop.  Handelaars met riksjas kruip onder coolie-hoede weg en verkoop slang- en spinnekop-op-’n-stok; die locals hou van karaoke, blink pruike en plaat van “my ling, my ling!” as haar ring nie teruggegee word nie; elkeen wat verontreg is, reageer met Kung Fu-kicks en elke hou weerklink in corny klankeffekte, nes in die films.  Dit alles teen ’n agtergrond van Chinese lanterns en – gelukkig vir die produksie – die teater se bamboesbosse.

Op treffende wyse benader Wild die eerste toneel, waar Ægeon ’n groot deel van die eksposisie met die gehoor deel.  Was dit nie vir die gebruik van ’n klein houtboodjie en poppe wat die twee stelle tweelinge voorstel nie, sou ’n storie wat grotendeels op verwarring geskoei is, erg verwarrend wees.

Die aard van die toneelstuk maak die gebruik van stereotipes sinvol en ’n breë palet aksente word in hierdie produksie benut.  Die twee Dromios, byvoorbeeld, klink geheel anders as hul base, Antipholus of Syracuse en Antipholus of Ephesus, wat weer op hul beurt glad nie Chinees klink (of is) nie.   Ook dit regverdig Wild in die program:

Whimsically, our Dromios have matching accents genetically inherited from their ‘exceeding poor’ mother, rather than the accents of their adopted hometowns – hardly a greater leap, I hope, than Shakespeare’s blithe acceptance that after decades of separation the twins should have chosen to wear the same outfits on the same day!

Nicholas Pauling (Anthipholus of Syracuse) en Rob van Vuuren maak ’n gedugte span en speel goed saam.  Boonop is Van Vuuren se vertolking van Dromio of Syracuse meesterlik:  Sy komiese tydberekening is onverbeterlik en as komediant is hy ’n duidelike aanwins vir hierdie produksie.  Chi Mhende se vertolking van Solinus, die heerser van Efese, is oortuigend.  Sy speel ook die rol van Nell, die sekslustige slaaf wat tot groot vermaak vir arme Rob van Vuuren al sy hel gee – dié sorg vir van die snaaksste oomblikke van die produksie.  Frances Marek bied ’n heerlike onskuld tot die getroue Luciana en daarmee saam die nodige erns om veral die slapstick-komedie te kontrasteer.

Alhoewel Andrew Laubsher se uitbarstings as Anthipholus of Ephesus nie altyd goed beheer word nie en later net irriterend is, wil dit tog voorkom asof hy as akteur ’n doelbewuste poging maak om sy Antipholus van Pauling s’n te onderskei.

Danksy Angela Nemov se slim kostuumontwerp is dit egter moontlik om die een Antipholus van die ander te onderskei – albei in geel sweetpakke, een met blou strepe, die ander rooi.  So ook het die Dromios, in blou oorpakke, onderskeidelik ’n blou en rooi pet op.

Rob van Vuuren as Dromio en Nicholas Pauling as Antipholus of SyracuseWat my egter tot kopkrap oorhaal, is dat die ontwerp nie deurgans volgehou word nie.  Dis een ding om te sê Shakespeare gaan Sjena toe, maar waarom is Luciana –geklee in ’n Cheongsam, met ’n sambreeltjie en sterk aksent – duidelik Oosters, terwyl haar sister Adriana eerder Oos-Europees voorkom?  Ook hiervoor bied Wild ’n verduideliking:

Our Ephesus is thus a Never Never Land Chinatown, composed of irreverent Asian clichés, signs and symbols, consciously avoiding any sense of geographical or cultural veracity.    

Love at first sightDat die ontwerp nie heeltemal logies is nie, doen egter nie afbreek aan hierdie produksie nie.  Dit sluit eerder aan by die (soms problematiese) teks wat sterk op die gehoor se willing suspension of disbelief steun.  Ek bedoel, hoe toevallig dat ’n identiese tweeling, elk met ’n identiese kneg, reeds 33 jaar geskei, op een dag toevallig in dieselfde stad so verwar kan word?  En dan nog besluit om dieselfde klere aan te trek?  As die gehoor verby dit kan kyk, pla die vreemde ontwerpkeuses sekerlik nie.

Dit bring my egter by die een ding wat my brein nie wou baasraak nie:  Daai DJ…  Iewers probeer ek terugdink aan my dae in die Teaterwetenskapklas en die enigste verduideliking waarmee ek vorendag kom, is dat sy ’n silent observer is.  ’n Soort regisseur/ringmeester wat die spel hier onder haar deur haar musiek optower.  Die antwoord blyk om nóg ’n Oosterse cliché te wees, soos wat Wild (weereens) in die program verduidelik:

On this large outdoor stage, we have sought to reproduce the energy of the [Kung Fu] films through a riotous assemblage of theatrical means:  a cod-Pegking Opera show, a Greek chorus of market vendors, a comic fan dance, a digital reinvention of the live instruments of Noh and Kabuki theatre, transformed into a DJ using an iPad app…

Om saam te vat:  Vanjaar se produksie is, in een woord, anders.  Dis jonk en kleurvol, nie altyd logies nie en tog wonderlik snaaks.  Aanhangers van cheesy Kung Fu-films sal die byklanke geniet wat, indien dit met die aksies op die verhoog gesinkroniseerd is, pragtig werk.  Stiff-upper-lip lesers van Shakespeare se (groot) werke mag moontlik ’n karate-tjop van ’n andersoort kry, want The Comedy of Errors maak veral staat op slapstick om die gehoor te laat lag.  Met ’n laaste aanhaling uit die program beaam Matthew Wild wat ek eintlik wil sê:

Any company tackling the play must seek an effective balance of broad comedy and deeper feelings; of slapstick and sincerity; of high energy farce and gentler human comdey[.]

Dis juis hierdie balans tussen lawwe lompheid en slawe-slanery – wat met tye selfs daai Shakespeare-connoisseur sal laat glimlag – en die knop in die keel wat die laaste toneel bring as die broers, maar ook hul ouers, ná drie dekades met mekaar herenig word, wat hierdie produksie so geslaagd maak.

Ek dink dié produksie se achilleshiel is die noodsaaklike handleiding wat die program is, want daarsonder sou ek steeds oor die ontwerp onseker wees.  In 2009, as student onder Marthinus Basson se tutorskap, was ons klas self lief vir regisseursnotas waarin ons besluite verduidelik (en soms regverdig) het.  Marthinus se opinie is dat mense geneig is om nie die program te lees nie en juis daarom moet jou ontwerp vanselfsprekend wees.  En dít is vanjaar se The Comedy of Errors nie.

Ten spyte hiervan is hierdie produksie propvol pret – ligte vermaak wat die hele familie se wind sal uitslaan.

Die produksie is by die Maynardville Opelugteater in Rondebosch tot 18 Februarie 2012 te sien.  Vertonings is Ma-Sa om 20:15 en kaartjies wissel van R100 tot R150.  Besprekings by Computicket.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s