Omsendbrief #001

Kamer B201, Huis de Villiers
Neethlingstraat
Stellenbosch
7600
1 September 2011; 23:42

Beste van Wyk,

My venster is ‘n blanke vlak.  Tans weerkaarts ek daarin, maar in die dag is die boom hier voor my ‘n staanklok waaraan die seisoene soos gewigte hang.  Dis September en die bome begin blare wys.  Jy sou daarvan gehou het.

Die rede vir my brief is tweevoudig.  Eerstens, om jou in te lig dat ek vandag jou eerste bundel gelees het.  Wel, tweede, indien jy “Impressies en ander gedigte” as jou eerste poging tot ‘n bundel beskou. Ek skryf ook om vir jou in te lig dat ek ‘n besonderse besige week gehad het en daarom nie tyd gehad het om meer te blog nie.  (En moenie frons nie, ek weet jy loer gereeld wat op LitNet aangaan, so die term ís aan jou bekend.)

Dit was aanvanklik moeilik om al ses drukke van Alleenspraak te kry, maar met die vriendelike hulp van mevrou Brink in die Dokumente Sentrum kon ek dit gou opspoor en afstof en die hele middag daaroor buk.  Ek probeer vasstel waar jy tussen drukke gewysig het, en waarom.  Dit is alles deel van ‘n opdrag vir professor Kannemeyer.  Hy stuur groete, weet jy.  (Ek weet jy ken hom nie persoonlik nie, maar hy ken vir jou en Gladstone goed genoeg.)  Gepraat van Gladstone:  Dra my groete aan hom ook oor.  Ingrid – ‘n klasmaat en vriendin – buk self vanaand oor sy Ryke dwaas.

Verder het ek ‘n groot hoeveelheid van my tyd aan merkwerk gewy.  Jy was tog self in die Onderrig en ken die frustrasie wat ‘n pak opstelle inhou.  Daaroor wil ek liefs nie uitbrei nie; die rooipen het genoeg gepraat.  Boonop is Koch in Griekeland, so nie eers sy troos kon help nie.

Gelukkig kon ek tyd maak om sosiaal te verkeer en ‘n verwerking van William Shakespeare se Romeo and Juliet oor die naweek gaan kyk.  Daaroor skryf ek later meer.  Verwag ook ‘n resensie van Skoonheid, die eerste Afrikaanse film wat by die Cannes-filmfees in Frankryk gewys het.  Of jy dit sou geniet, twyfel ek.  Moet asseblief nie verplig voel om saam met my te stem as ek sê dit was ‘n afgryslike goeie fliek nie.

Dit dan eers die nuus vir nou.  Onthou tog om aan jou broer groete oor te dra.  Aan Sheilla ook, indien jy haar nog sien.

Vriendelike Groete,
Stephan

Ns.  Doen jouself ‘n guns en lees môre Philip Larkin.  Jy sal sy bundels in jou naaste biblioteek kry.  In jou geval is dit op enige straathoek van die hiernamaals.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s