Verhale van verveelde tieners die lees werd

Palo Alto – Stories deur James Franco

Op Sondag, 10 Julie 2011, ná drie dae van intense toeristery in New York, is al wat oorbly ‘n besoek aan die Strand Book Store en die laaste paar dollars van my spaargeld.

Ek is glad nie spyt dat ek hierdie besonderse boekwinkel vir laaste gebêre het nie; dis eerlikwaar die grootste een waarin ek al ooit was.  18 miles of books, en hulle jok nie.  Terwyl ek wag om te betaal, vang my ook ‘n boek getiteld Palo Alto.  ‘n Halfkaal knaap lê en dut (?) op die buiteplat en Stephan vergeet vir een oomblik dat hy reeds sy gewig in boeke oor drie tasse versprei het en nou met nóg $70 s’n in sy hande staan.

Palo Alto - James Franco (Scribner)

Die skrywer

Op die trein JFK toe sien Koch die boek en vra of dit dié James Franco is.  En inderdaad, dit is.  Franco, wat veral as akteur bekend is (die Spiderman-trilogie, 127 Hours en mees onlangs The Rise of the Planet of the Apes), maak met hierdie bundel kortverhale sy debuut as skrywer.  En hier is ‘skrywer’ ‘n relatiewe los term, want hy het reeds nege draaiboeke agter die blad.

James FrancoDie boek

Die bundeltitel verwys na die stad in Kalifornië (sowat 30 myl / 50 kilometer suidoos van San Francisco) waar Franco grootgeword het en waar die twaalf kortverhale afspeel.  Hy bevolk sy verhale hoofsaaklik met tieners en die leser word dadelik deel van die verveelde karakters se allermins vervelige lewens.  Ouers en grootmense is grotendeels afwesig, en waar hulle tog teenwoordig is, is hulle besig om seks te hê met jong meisies of gewere aan seuns te verkoop.

Die tieners is tipies.  Maar tussen die gedrink in parkies en die rook van dagga in donker parkeerareas en die konstante pogings om aan vaginas te vat, ontmoet ons tog unieke karakters.  Neem vir Ryan, wat ‘n bibliotekaresse doodry en nonchalant vir ons daarvan vertel (“Halloween”).  Of Marissa, wat ‘n sieldodende internskap een somer doen en dan ‘n bad boy op ‘n partytjie ontmoet net om nodeloos verlief te raak, want Ronny raak in ‘n bakleiery betrokke en word voor haar oë herhaaldelik deur ‘n bende omgery (“Lockheed”).  Pam is ‘n Viëtnamese meisie en kry die bynaam Chinatown nadat sy seks het met Roberto, Roberto se vriende, Roberto se sokkerspan, die werkers by Roberto se gunsteling restaurant en, uiteindelik, die klante by Roberto (en klaarblykend al die mans van Palo Alto) se gunsteling restaurant.  “Take me down to Chinatown” verf Roberto uiteindelik op ‘n muur (“Chinatown”).

Die sukses van Franco se stories lê in die no-nonsense fuck’em all houding waarmee dit vertel word.  Na my mening kry hy dit uitstekend reg om sy karakters soos tieners te laat klink; die karakters is daarom nie net realisties nie, maar geloofwaardige vertellers en fyn fokalisators.  In “Jac’O” is Manual aan die woord:  “We sit here because it’s dark, and there are no lights outside this building.  We’re stopped for no reason except that the night is still going and we’re drunk, and who wants to go home, ever, and this spot is as good as any to just sit in the shadows and let life slow.”

Uiteraard loop Franco die gevaar om te stereotipeer – en hy doen dit meer as een keer – maar uiteindelik slaag die oorgrote meerderheid van die verhale.  Die oop eindes sorg dat die stories slices of life is, die leser dus ‘n voyeur wat blootgestel word aan die vreeslose en uiters eerlike bekentenisse van hierdie kinders waarop jy nie kan klik nie.

Die menings

Die groot vraag bly steeds of die talentvolle akteur ‘n talentvolle skrywer is.  Nie een van die films (of kortfilms) wat hy geskryf het, is alombekend nie en, alhoewel Palo Alto sekerlik poog om Franco as ‘n ernstige skrywer te vestig, is die opinies van resensente so gemeng soos die taal van óns tieners.  “With ‘Palo Alto,’ Franco’s literary execution hasn’t quite matched his other performances,” skryf Joshua Mohr in The New York Times.  Killian Fox se resensie in The Observer sê “‘Palo Alto’ […] is a flawed but fascinating work that neither rules out nor confirms either possibility.”

My eerlike opinie is ewe lou.  Dat Franco ‘n belowende skrywer is, is duidelik uit die eerste sin van sy eerste verhaal (“Halloween”):  “Ten years ago, my sophomore year in high school, I killed a woman on Halloween.”  Dat sy stories oorspronklik en kreatief is, is sigbaar in die interessante dog aaklige gebeure wat beskryf word.  Maar, soos baie van sy karakters, raak die leser mettertyd verveeld.  Dis ook net vir so lank lekker om te sien hoe Palo Alto se tieners hulleself oorgee aan drank, dwelms en draadtrek.  Die kragwoord “fuck”, in sy vele kleure en klankvariasies, is later maar net nog tienerjargon.

Die interessantste van die verhale is juis daardie waar die karakters probeer om die alledaagse bestaan van verveelde tieners – en dan spesifiek ook die verveelde Amerikaanse tieners van Palo Alto – te ontsnap.  “I sipped my beer.  It was like thick, frothy urine” sê die wiskunde-boffin in “Lockheed”, na my mening die opwindendste verhaal in die bundel.  Dis beskrywings soos hierdie wat verras en bewys dat James Franco meer as net ‘n belowende gesiggie op die grootskerm is.

Palo Alto is pas in Suid-Afrika uitgegee in ‘n (minder interessante, meer kunstige) groen jassie.  Kry jou kopie by jou naaste Exclusive Books teen R129.00 of bestel nou een op Kalahari teen R96.95.  (Jy kan ook my kopie leen as jy baie mooi vra.)  Ek hoor ook graag van jou – laat weet gerus wat jy van Palo Alto dink.

Palo Alto - James Franco (Faber&Faber)Lees die resensie in The New York Times hier en die een in The Observer hier.  As jy wil.   

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s