Wyse-Woorde-Woensdag


#004

www 004 Saartjie Botha

In 2006 het ek Verkeer op die Woordfees gesien.  Dit was my kennismaking met die werk van Saartjie Botha, een van Suid-Afrika se voorste teaterskeppers.

Intussen kon ek verlief raak op haar werk en werkswyse, die absolute deernis waarmee sy mense hanteer en die enorme bydra wat sy tot die Suid-Afrikaanse teater lewer.  Haar nuutste skepping, Balbesit, open op vanjaar se KKNK met regie deur Jaco Bouwer.  Vir meer inligting, kliek hier en hier.

Wat beskou Botha as die belangrikste ding in teater?  Moeite, sê sy.  “In teater is moeite nooit verniet nie.”

Kliek hier en like Afrikaansvatter op Facebook

 

Die beste brief wat ek ooit ontvang het

Miemie:  ’n ode aan ’n ander ouma

'n ode aan 'n ander ouma

My ouma is op ’n Maandagoggend oorlede.  Ek was nege en besig om die knope van my wit skoolhemp vas te maak toe Tannie Mien inkom en sê “Ouma is weg”.

Later daardie dag is ek teruggestuur huis toe waar Tannie Mien, ouma se suster, meer Rembrand van Rijns as gewoonlik gerook het.  En nie eers skelm nie.

Ouma Judy het nie soos kaneel geruik nie.  Eerder ’n mengsel van kool wat lank op die stoof in Triomf gekook het.  En boontjies en ertappel wat met ’n vurk in ’n pot fyngedruk is.  En gesigpoeier.  Sy was mollig en streng en oorversigtig (Nie te hoog in die vyeboom klim nie!  Uit Oupa se garage!  Kom nou in, Loving gaan begin!).  As ek aan haar dink, onthou ek vuil hare en komberse wat te styf ingesteek is.  Sy wou nie dat ons saans hare was nie (Soek jy vir verkoue?) en netnou breek ons ’n arm as ons snags uit die bed val (Ek in die nag hospitaal toe ry? Aikôna!).

Twee jaar later het Oupa Frans vir Tannie Miemie ontmoet, die tipe tannie wat mens net in feeverhale van hoor.  Sy het ’n pragtige tuin in Nylstroom se bosveld makgemaak en ons aangemoedig om daarin te speel.  Sy het selfs saam met Oupa in sy garage gewerk; kunstig gekerf aan fyn houtskinkborde en gebrandskilder.  En 7de Laan sou sy opneem as ons nie daar was om saam te kyk nie.

Sy en Oupa het een middag saam met ons aan tafel gesit.  Dit was Ma se verjaarsdag in 2011 en Koch se ma en sy jongste broer was ook daar.  Oupa-hulle het vir Koch geken as die vriend saam met wie ek oorsee is, al het ek en hy vermoed dat die oumense tog verby die grense van ons vriendskap sien.

Dit was eers op 31 Julie 2012, toe ek vir Oupa Frans agter die swart gordyn in die begrafnisondernemer se agterkamer gesien het, wat ek die guts gehad om iets te sê.  Te laat, ek weet, maar steeds.  Ek het aan sy wang gevat, die stoppelbaard koud en hard onder my vingers, en vir hom saggies van my en Koch vertel.

In die Septembervakansie stuur ek ’n brief en sjokolade saam met my ma Nylstroom toe.  Vir Miemie.  Daarin skryf ek dat ek een nag van Oupa gedroom het, ek en my vriendin Bianca staan saam onder ’n sambreel in Cresta, Johannesburg, as Oupa verbykom.  “Is Oupa gelukkig aan die anderkant?” vra ek sonder om vir Bianca aan hom voor te stel.  “Ja, Steffie, ek is,” sê hy sonder om nat te reën.

Ek skryf verder dat ek slegs vir nege jaar my ma se ma “ouma” kon noem.  Tog het ek reeds vir 14 jaar lank ’n nuwe ouma gehad – ’n dêm sexy een daarby – al noem ons haar Tannie Miemie.  Ek bieg ook oor my en Koch, vertel van die keer toe Lina Spies vir Koch gecorner het en vir hom gevra het “Wat is jy nou eintlik van Stephan?”.  (Koch sweet en dink aan antwoorde:  My vriend;  my woonstelmaat;  my bloedbroer.  Maar dié dinge sê hy nie.  Dan stort hy die drie sillabes uit – sy kêrel.  En Lina lig haar glas en glimlag breed en sê sy ken twee gay knape in die Kaap.)

Ma bring ’n brief uit die Bosveld terug:

2 Oktober 2012

Liefste Stephan,

Dit was nou iets soos Kersfees!  Jou brief en die lekkers natuurlik!  Baie, baie dankie.  Dit het vir my besonder baie geraak en ook beteken toe ek ook die droomervaring gelees het.  Dit gebeur nie met elke mens nie.  Jy is spesiaaaal.

Ons het heerlik saam gekuier die tydjie wat jou Moederlief en Tannie Ina hier by my was.  Ek was en is baie lief vir julle almal.  (My kinders en Kleinkinders!)

Stephan, Oupa en ek het lankal aangevoel van jou en Koch se dieper vriendskap en dit het ook deel van ons geword want ons is mos lief vir jou!  Mag dit ’n mooi en geseënde verhouding bly.

Ek stuur vir jou die boek van Aat Kaptein, dit is ’n boek uit die Ark (1961).  Ek dink nogal jy sal dit geniet, oud-of-te-not!

Liefde groete,

van Tannie, Ouma, Blerrie, Miemie (Die sexy is missing…)

Vandag is my verhouding met Koch 2.333333333333333 jaar oud.  En dít is die beste brief wat ek ooit ontvang het.

Altyd anoniem; soms antoniem

An(t)oniem deur Philip Rademeyer & Penelope Youngleson, met Jaco Nothnagel en Maryke Nel.  Regie deur Philip Rademeyer.

An(t)oniem

Een van die geheime hoogtepunte op die US Woordfees vanjaar was An(t)oniem – ’n klein show oor twee mense wat in die 21ste eeu liefde nie vind nie.

Ontmoet vir Jakob.  Met ‘n J, anders is dit Kakob.  Dit beteken agterbaks; agterkruiper; gatkruiper; oorkruiper; hakskeenbyter.  Wie moet jy wees as jou naam dít van jou sê?  Daarom kies hy iets wat by hom pas: sensitive_soul_84.

Meet Cecilia.  It means blind.  Parents – sometimes they do this on purpose.  Celia is getting a pug, but not getting laid; turning 27, but feeling 72.  She wonders if she’ll ever Mr Right – to the point that she goes, wrongfully, for Mrs. Right.   If only she knew what se wanted.  Therefore she goes by the alias of stevie_wonders_why.

Op die verhoog is twee slaapkamers – die binnesfere van twee desperate siele, elk netjies afgerond met detail wat boekdele oor die eienaars spreek.  Dis danksy die internet dat sensitive_soul_84 en stevie_wonders_why mekaar se wêrelde betree, maar net deur die veilige ruimte van ’n rekenaarskerm en eers ná ’n aantal skreeusnaakse scenario’s – Cecilia maak glads of sy eintlik ’n Afrikaanse nooi is en Jakob word gevra of hy dick pics wil ruil.  Ons lag, want die karakters is net ’n spieëlbeeld van dit wat ons reeds ken.

Die vennootskap tussen die skrywers Philip Rademeyer en Penny Youngleson werp vrugte af in hierdie tragikomedie waarin enige aanlyn-hofmaker hom- of haarself sal herken.  Danksy die komedie resoneer Jakob (Jaco Nothnagel) en Cecilia (Maryke Nel) se desperate eensaamheid eerder as wat dit die gehoor irriteer.   Boonop sorg Cecilia se stories oor die stereotipes wat sy ontmoet dat die twee hoofkarakters se menslikheid na vore tree.  (En erken dit, online dating krap die vreemdste stereotipes uit elke hool denkbaar)

Dit is uiteindelik die kombinasie van goeie karakterisering deur die skrywers en besonderse toneelspel deur talentvolle akteurs wat aan Jakob en Cecilia ‘n egtheid gee waarmee die gehoor identifiseer.

Cupid se aanlyn kantoor maak dit vir almal maklik om anoniem te wees.  Dis hier waar jy jouself kan herbedink en na eie wense kan bemark.  Maar selfs die onsigbare sielsgenoot waarmee jy al vir hoe lank chat kan jou antoniem wees, en dit is juis wat ons, met diepe meegevoel vir die karakters,  in hierdie anti-romanse vind.

An(t)oniem 2

Sou An(t)oniem, ‘n Rust Co-Operative-produksie, by die ander feeste wys, maak seker dat jy ’n kaartjie het.  Philip Rademeyer is nie verniet vir die Fleur du Cap vir Beste Nuwe Regisseur genomineer nie.  Die foto’s hierbo (deur Jacques Ensink) bied slegs ‘n klein blik op ‘n klein show wat vanjaar op die Woordfees uitgeblink het.

Driving Dr. Doep

Wyse Woorde Woensdag met Suid-Afrika se voorste storieverteller

Waarskuwing - taal vir 'n volwasse gehoor

Hierdie post bevat taalgebruik wat sensitiewe lesers mag ontstig.

“Wat ook al jy doen, noem hom net dr. Du Plessis,” sê HW Gordon nadat ons uitgevind het PG du Plessis moet van een gastehuis na ’n ander trek.  Dis Woensdag op die Woordfees en dinge in die kantoor gaan woes.  “Nee, ek is nou doodernstig.  Dr. Du Plessis.”

By Rozenwijn-gastehuis wag dr. Du Plessis vir my in ’n wit hemp met kruisbande wat sy swart broek bo hou.  “Moet tog net nie ’n pens kry nie,” sug hy toe hy sy broek optrek en die swaar beursie van sy broek- na die baadjiesak skuif.  Ek sluk swaar, sê dan dat ek reeds halfpad daar is.

Hy gee die sleutel terug en die Nederlandse ontvangsdame vra of alles in orde was.  Hy praat van die fokken prop wat weg is en hoe aaklig dit is om in die bad te skeer.  “Die stoppels gaan sit in jou intieme plekke.  As ek vandag jeuk, gaan ek aan jou dink,” verduidelik hy.  Sy antwoord dat hulle nie vir die wasbak ’n prop kry nie – die gaatjie is te klein.  PG lag en vra hoeveel virgins dít nie al vir hom gesê het nie.

My hande sweet as ons in Van Riebeeckstraat indraai.  [ASIDE:  Ek raak nie starstruck nie.  Ek het al twee keer langs Anna-Mart van der Merwe gesit en niks oorgekom nie.  Maar skrywers is rockstars en ek die grootste groupie.  En dis die man hier langs my wat Fees van die ongenooides bedink en geïnk het.]

Ons stop by Yellow Lodge in Heroldstraat.  Ek maak vir hom die kar se deur oop en dra sy bagasie tot in die kamer.  “Sukkel so met my skouer,” sê hy en vryf met sy linker hand oor die pleister wat van sy regterarm wil afval.  “Die fokken hond het my gebyt.  Ons het ophou tel by 80 steke.  Maar hy was ’n goeie hond.  Tot hy sy baas gebyt het.”  As ons uitstap, eye hy die dubbelbed en vra of hy meisies kan oornooi.  “Ek sal vir niemand vertel nie,” belowe ek.

Later gaan laai ek hom by die Woordfees se VIP-venue op.  As ons weer in die kar klim, ry ons Knorhoek toe.  “Vir wat behandel jy hierdie dirty old man soos ’n gentleman?” wil PG weet.  Ek weet nie eintlik hoe om te antwoord nie en prewel iets van ek wat ook ’n skrywer wil word.  “Moenie stupid wees nie” antwoord PG.  “My ouers het maar net vir my goeie maniere geleer,” sê ek uiteindelik.  Hy dink ’n oomblik voor hy vertel hoe hy vir Hennie van der Merwe uitgekak het toe hy op die lughawe vir hom moes wag.  “Ek dog dis sommer ’n studentjie wat my moet oplaai, toe stop daar ’n ordentlike man van my jare hier langs my.  Jissis, ek het soos ’n kont gevoel.”

By Knorhoek stel ek hom voor aan Marina Griebenouw, wat ’n paar vrae aan hom gaan stel.  Die Towerbosch Aardkombuis is propvol.  Oral sit Woordfeesgaste met kopieë van Fees van die ongenooides of Koöperasiestories wat later geteken moet word.  As die gesprek begin, verstaan ek waarom PG een van ons beste storievertellers is.  Hy kies sy woorde goed en die gehoor hang aan sy lippe.  Een oomblik vertel hy van ’n vrou wat verkrag is en die baba met geboorte nek omgedraai het.  “Ek het vir haar belowe ek sal dit eendag in ’n boek sit.”  En hy het – in ’n roerende oomblik in Fees moet ’n vroedvrou Magrieta se kindjie vermoor en begrawe.  Die volgende oomblik skater die gehoor as PG vertel van ’n man wat in die gehoor sit en ’n wind moet laat.

Te gou is die gesprek op ’n einde, en as ’n laaste vraag vra Marina vir PG wat die ouderdom hom geleer het.  “Om lief te hê anderkant die lyf” antwoord hy en vertel van sy vrou wat by die huis wag.  “En ek het besef watter skoonheid daar in die kortstondige is.”

Terwyl ons eet dink ek aan die merkwaardige mens wat PG du Plessis is.  Hy is ’n katoolse ou vuilbek wat op ’n plaas buite Potchefstroom bly, maar hy gee nie voor om enigiets meer te wees nie.  Dís die tipe skrywer wat ek eendag wil wees – ’n eerlike een wat die skoonheid van die kortstondige ken.

Later die middag laai ek hom weer by Yellow Lodge af, waar hy my Nag van Legio teken – “Stephan, Hou hy nog?  Na soveel jaar! PG du Plessis” staan daar voorin geskryf.  Dan groet ons.  “Dit was ’n groot voorreg om u te kon rondry, dr. Du Plessis,” sê ek.  “As daar enigiets anders is wat ek kan doen, laat weet maar net.”  Hy frons en voel vir sy sigarette.  “Ja, sê vir daai doos wat my meneer Du Toit genoem het ek gaan hom donner.”

www 003 PG du Plessis

Foto’s:  Jaqcues Ensink

Diep in ’n donker BOS

BOS deur Malan Steyn.  Regie & ontwerp:  Marthinus Basson.  Met Stian Bam en ander.  ‘n TEATERteater en US Drama-produksie in samewerking met die US Woordfees.

BOS met Stian Bam

Right of passage.  Vandag se kinders ken dit nie.  Daarom bied Kamp Koershou die geleentheid vir seuns en dogters om mamma se handjie te los, die iPod touch saam met die selfoon te begrawe en in ‘n bos te oorleef.   

Hier moet 10 tieners leer vuurmaak; wippe en strikke stel; versigtig wees vir die natuur.  Maar die natuur om ons is nie die groot vyand nie.  Dis die natuur in ons waarteen almal om oorlewing veg…

Dís hoe ek Malan Steyn se toneelstuk BOS kan beskryf sonder om te veel weg te gee.  Hierdie stuk, wat verlede jaar op die KKNK opgevoer is met 10 hoërskoolakteurs, is vanjaar deur Marthinus Basson herontwikkel vir die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement.  Stian Bam is weer te sien as die vreesaanjaende bevelvoerder Bossies, wat met sy eie spoke in die bos spartel.

Bam, wat vanjaar by vyf ander produksies op die US Woordfees betrokke was, se skedule het eenvoudig nie toegelaat dat BOS ook inpas nie.  Daarom speel dit hierdie week op 401 Rozendal, ’n wynplaas op die Polkadraaipad tussen Stellenbosch en Kuilsjrivier.

401 Rozendal bied die ideale ligging vir hierdie sensoriese teater.  Die gehoor sit op ’n paviljoen voor ’n oop skuur onder die sterre.  Jy ruik die vuur, jy voel die vrees vir die donker en iewers raak jy onseker of die uile oor die luidsprekers of uit die bome huil.

Bam lewer ‘n vreesaanjaende, dog roerende vertolking van Kamp Koershou se bevelvoerder.  Hy speel teenoor 10 talentvolle studente-akteurs in hierdie stuk wat weereens wys waarom Marthinus Basson ‘n meester van die teater is.  Malan Steyn se teks is knap, snaaks, en uiters relevant – kinders én ouers sal daarmee kan identifiseer.

BOS speel tot Saterdag, 16 Maart by 401 Rozendal.  Die vertoning begin saans om 20:00 en kaartjies kos R90 vir volwassenes en R60 vir studente.  Daar is ook ‘n BOS-pakket beskikbaar wat ‘n ligte ete en wyn insluit – skakel 021 808 2019 vir meer inligting of blokbesprekings. ‘n Pendeldiens vertrek om 18:00 en 19:30 vanaf die HB Thomteater in Victoriastraat, Stellenbosch.

Kuifie in die kollig

7 redes waarom Kuifie koe(ë)l is

Vanjaar kon ek al die Tintin-boeke aanskaf en saam met die wêreldberoemde jong joernalis (wat nooit sit en skryf nie…) sy 24 avonture herlees en herleef.  Daar is 7000 redes waarom ek dol is oor Tintin, maar dit bêre ek vir ’n ander keer…  Hier is 7 redes hoekom Kuifie koe(ë)l is.

1. Kuifie, die vreeslose avonturier

Nie net is hy die vreeslose bestuurder van menigte motors en motorfietse nie, hy het ‘n vlieglisensie en stewige seevoete.  Hy durf die wilde weste van Amerika te perd aan, maar ook die wilder donkertes van die Kongo en die Suid-Amerikaanse oerwoud.  In Indië ry hy op olifante en in Tibet bevriend hy ‘n yeti.  Is daar iets wat Kuifie nie kan doen nie?

2. Kuifie Kanniedood

Ja, Kuifie kan nie doodgaan nie.  Om die waarheid te praat, Kuifie is doodgelukkige, want meer as een maal (selfs in een avontuur!) sien Kuifie die raampies van sy lewe voor hom flits,net om dikwels op wonderbaarlike maniere die dood te ontsnap.  Ja, Kuifie kan nie doodgaan nie.

3. Kuifie is vriende met almal (wat saakmaak)

Behalwe vir Bianca Castafiore – en erken dit, daar is geen persoon bo háár nie – het Kuifie ander BBP’s in sy binnekring.  In Die sigare van die Farao bevriend ons held die Maharaja van Gaipajama, in Amerika ontmoet hy die Swart-Voet-indiane se Sachem Mol-met-die-Skerp-Oog, in Tibet is hy vriendelik met die klooster se Groot Ab en, danksy die suksesvolle poging om sy septer betyds terug te kry, raak Kuifie en Koning Muskar VII van Saldonië boesempêlle.  O, en om nie te vergeet dat Kaptein Sardyn ook van adellike afkoms is nie.

4. Kuifie is altyd* die nederige held

Soms duik Kuifie in riviere om sy vriend Chang te red.  Ander kere hoor hy die noodkrete van ’n dame wat deur ’n boef oorval word, net om op ’n filmstel in te hardloop.  Maar elke keer help hy waar hy kan.  Hy tou treine in Kongo en baklei teen boelies in Peru – Kuifie is altyd die nederige held.

*Dalk nie altyd nie.  Spokie red sy baas se bas op meer as een geleentheid.

5. Kuifie, die wêreldreisiger

Kuifie het al poskaarte van regoor die wêreld gestuur.  In sy eerste avontuur besoek hy die kommunistiese state van die USSR voordat hy gaan kyk wat in die Belgiese Kongo broei.  (Dit is ongelukkig die verste suid wat ons held in Afrika afkom; helaas het hy nooit ’n hout kameelperd langs die N1 gekoop nie.)  Hy besoek Suid-Amerika, die Balklande en die Midde-Ooste meer as een keer en klim die Tibettaanse pieke op soek na sy jeugvriend Chang wat hy in China ontmoet het.  Buiten vir Antarktika bly Australië die enigste kontinent waarheen Kuifie ons nie neem nie – dit nadat booswigte vlug 714 na Sydney kaap.  Maar wie wil nou down under wees if you’ve been up there?  Ja, Kuifie was op die maan, in 1954 al!

6. Kuifie is meertalig

Nooit vind Kuifie dit moeilik om met sy maats te kommunikeer nie.  Hieruit moet ons aflei dat Kuifie ’n gebore linguis is en tale baie maklik aanleer.  Dis veilig om te sê Kuifie is vlot in Frans (sy huistaal), Engels (maar ook Skots wat op en om Die Swart Eiland gepraat word), Chinees (sy beste vriend Chang het hom moontlik geleer), Arabies (hy word aangestel as Prins Abdullah se baybsitter) en Spaans – hy keer immers oorloë in twee Suid-Amerikaanse lande.  Kuifie dra ook basiese kennis van Sioux – die taal van die Swart-Voete – en, danksy die hulp van die verlore verkenner Ridgewell, leer Kuifie die taal van die Arumbayas.

Tintin in 102 tale beskikbaar – hy’s ’n meertalige mannetjie, voorwaar!

7. Kuifie skiet kolskote

In Kuifie in die Kongo kan dié skerpskutter nie verstaan waarom hy heeltyd ’n bok misskiet nie.  Hy vuur skoot na skoot, net om te besef hy het ’n hele trop platgetrek.  Reeds hier is dit duidelik dat Kuifie altyd kolskote skiet.  As jy my nie glo nie, vra maar vir Bobby Smiles, wat op die harde manier sy les geleer het.